R100 000 uitgeloof ná skietvoorvalle in Mitchells Plain – vyf dood en sewe gewond

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het ‘n beloning van R100 000 uitgeloof ná verskeie skietvoorvalle Donderdag op verskillende plekke in Mitchells Plain. Vyf persone is dood en nog sewe gewond. Speurders van die polisie se teen-bende-eenheid het ’n ondersoek van stapel gestuur.

Brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, sê luidens ‘n verklaring aan Nuusflits volgens verslae van die toneel is vyf persone omstreeks 12:30 by ’n winkel in Beaconvallei geskiet. Twee is dood en drie is gewond. Nog vier persone is in ’n ander winkel in Beaconvallei geskiet – een persoon is dood en drie is gewond. In ’n derde voorval, ook in Beaconvallei, is nog ’n persoon geskiet en gewond. In twee ander skietvoorvalle wat in Tafelsig en die Kaapse middestad plaasgevind het, is onderskeidelik twee sterfgevalle aangemeld. Al die voorvalle word vermoedelik met bendeverwante aktiwiteite verbind. Sake van moord en poging tot moord is geopen en speurders van die teen-bende-eenheid ondersoek die voorvalle.

Intussen is multidissiplinêre ontplooiings versterk om verdere insidente te voorkom. Die soektog na die verdagtes duur voort en geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.

Luidens ‘n verklaring van die Stad Kaapstad sê Eddie Andrews, raadslid en waarnemende burgemeester, die skietvoorvalle in Mitchells Plain is ’n direkte bedreiging vir die veiligheid en welsyn van gemeenskappe. Hierdie vlak van geweld sal nie in Mitchells Plain of elders in die stad geduld word nie. Elke inwoner het die reg om veilig in hul eie woonbuurt te voel en ons sal beslissend optree om daardie reg te beskerm. Die Stad bied ’n beloning van R100 000 aan vir inligting wat lei tot die arrestasie en vervolging van die persone wat vir die skietvoorvalle verantwoordelik is.

“Dit is van kardinale belang dat ons die persone verantwoordelik vir hierdie skietvoorvalle opspoor. Benewens mannekrag het die Stad ook verskeie ander hulpbronne tot die SAPD se beskikking gestel om die ondersoeke te versnel. Ons sal ons verhoogde ontplooiingsvlakke in die gebied handhaaf om kalmte te herstel en die oortreders op te spoor. Ek verstaan dat die publiek huiwerig mag wees om te praat, maar asseblief, as jy enigiets van gister se gebeure weet, vra ons dat jy dit sal oorweeg om daardie inligting te deel,” het raadslid JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Die direktoraat vir veiligheid en sekuriteit werk nou saam met die SAPD. Addisionele personeel is gister na die gebied ontplooi, insluitend beamptes wat verbonde is aan die wetstoepassingsbevorderingsplan (LEAP), die metropolisie se taktiese reaksie-eenheid en die verkeersdienste se padblokeenheid.

Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief