GAUTENG. – Die polisie in Gauteng bied ‘n beloning van R100 000 aan vir enige persoon wat kan help om Dennis Nyatsunga/Ngombeni, ook bekend as Shumba, te arresteer, wat tot sy suksesvolle vonnis sal lei.
Lt.kol. Mavela Masondo sê die verdagte word vir die moord op vier persone, onder wie twee jong meisies, 4 en 7 jaar oud, gesoek. Die meisies is op 2 Junie in ‘n shack in Soshanguve aan die brand gesteek. Buiten moord word die verdagte op aanklagte van poging tot moord en brandstigting gesoek.
Die verdagte, oorspronklik van Mosambiek, is moontlik nog in Suid-Afrika en gebruik glo ‘n vervalste paspoort en asielsoekdokumente.
Enigiemand met inligting waar hy hom bevind, kan genl.maj. Mbuso Khumalo by 082 556 8642 of lt.kol. Andile Mankayi by 082 413 2141 bel.
Masondo sê alle inligting sal as vertroulik hanteer word.
Die publiek word versoek om nie die verdagte te nader nie, aangesien hy gewapen is en as gevaarlik beskou word.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Verdagte (35) wat van die moord op twee meisies, onderskeidelik 4 en 7 jaar oud, op 2 Junie in Soshanguve, beskuldig word, is deur die polisie in hegtenis geneem en verskyn vandag in die hof. Nog twee persone is doodgeskiet.
Kol. Mavela Masondo sê die verdagte is Sondag in Akasia in hegtenis geneem. ‘n Voertuig wat ook na bewering in die uitvoering van die misdaad gebruik is, is gekonfiskeer. Verdere ondersoek word gedoen en meer verdagtes mag moontlik in hegtenis geneem word.
Die meisies is ook in hulle huis gebrand.
Die verdagte sal vandag op aanklag van vier moorde en vier van poging tot moord in die Pretoria Noord-landdroshof verskyn.
En ook:
Twee meisies, een (7) ‘n gr. 2-leerder van Primêre Skool Lesedi en haar sussie (4) is Sondag in hulle informele woning in Soshanguve, noord van Pretoria, doodgeskiet.
Steve Mabona, die woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê die tragiese insident het die gemeenskap en die LUR, Matome Chiloane, geskok.
Mabona sê die polisie ondersoek die insident.
Die onderwysdepartement in Gauteng het maatskaplike werkers van die distrik en Childline ter ondersteuning aan die familie en die skool ter beskikking gestel.
“Dit is ‘n verwoestende verlies, en my hart gaan uit na die familie en die hele skoolgemeenskap. Ons doen ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe om oortreders aan te kla. Die veiligheid en welstand van ons leerders is uiters belangrik, en sulke geweldsdade is onaanvaarbaar en moet met die grootste erns aangespreek word,” sê Chiloane.
AO Johan van Dyk sê die polisie het Sondag ‘n klagte van ‘n shack wat in Nkandla- informele nedersetting, net buite die Rosslyn-area brand, ontvang.
Met aankoms op die toneel het het mense wat saamdrom gesê twee kinders het in hul ouers se shack doodgebrand. Polisielede het een kind op die bed en een op die grond aangetref. Beide was onherkenbaar verbrand en is op die toneel dood verklaar.
Van Dyk sê die polisie het ‘n 9 mm- en ‘n geweerdoppie op die toneel gevind.
Die dubbelmoord van die kinders word ondersoek.





