NOORDWES. – Die polisie het ‘n beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisname en suksesvolle vonnisoplegging van verdagtes kan lei, nadat 23 busse uitgebrand is.
Kol. Adéle Myburgh sê die busse se waarde word op R69 m. geskat.
“Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het die gemeenskap versoek om na vore te kom met inligting wat sal verseker dat hierdie genadelose misdadigers, wie se optrede die vervoer van skoolkinders en bejaardes belemmer, voor die hof gebring word om deur die volle mag van die wet in die gesig gestaar te word.”
Enigiemand met inligting word gevra om kapt. Johannes Montsho by 076 834 3531 te bel.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Altesaam 23 busse is by twee Bonjanala-busdepots uitgebrand. Die Phokeng-polisie vra hulp van die gemeenskap met die twee ondersoeke.
Kol. Adéle Myburgh sê ses busse is by die Chaneng- en 17 busse by die Tlaseng-depot tot as verbrand.





