GAUTENG. – Die reeksmoordenaar Rassie Nkuna en voormalige polisiebeampte Jacob Chego is elk tot vier keer lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir hul rol in die moord op Sabeiliwe Mogashoa en haar man, Lucky, in Maart 2022.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die twee het gesamentlik tereg gestaan op 12 aanklagte, waaronder sameswering om moord te pleeg, moord, ontvoering, bedrog en ander ernstige aanklagte. Daar is tydens die ondersoek bevind dat Nkuna en Chego saamgewerk het om die Mogashoa-egpaar te lok voordat hulle vir hul voertuig vermoor is. Die egpaar is in die teenwoordigheid van hul destydse agtjarige seun en eenjarige dogter vermoor. Sabeiliwe was ses maande swanger. Chego, ’n voormalige polisiebeampte, is as ’n medepligtige in die moorde gevonnis.
Nkuna dien reeds lewenslange vonnisse uit vir die moord op sy destydse meisie, Pretty Mazibuko, en haar suster, Marcia Mazibuko, in Mpumalanga. Hy sal na verwagting volgende jaar teregstaan in verband met die moord op Hilary Gardee.