KWAZULU-NATAL. – ‘n Operasie om vasgekeerde motoriste tussen Van Reenen en Swinburne/Montrose na veiligheid te neem en die pad veilig begaanbaar te kry, duur steeds voort. Die N3 is steeds gesluit.
N3TC – N3 Toll Concession Pty Ltd het vanoggend gesê reis na die area moet tot verdere kennisgewing uitgestel word.
Die pad is net voor middernag vir reddingsvoertuie oopgemaak wat vasgekeerde motoriste en voertuie in die suidelike rigting stadig na veiligheid begin begelei het. Dit is voertuie wat onderweg was na KwaZulu-Natal.
Die voertuie word begelei, terwyl padskrapers en reddingspanne besig is om die pad by Swinburne/Montrose veilig oop te maak.
Geduld word van motoriste gevra terwyl die volgende fase van die reddingsoperasie voltooi word. Indien jy kan ry, moet instruksies gevolg word en stadig en met versigtigheid gery word.
“Terwyl ons gereed maak om die N3-tolroete te heropen, wil N3TC graag sy hartlike dank uitspreek aan alle ramphulporganisasies, padvoorvalbestuurspanne, humanitêre groepe, plaaslike boere en gemeenskapsverenigings wat nooddienste en noodsaaklike hulp aan gestrande motoriste verskaf het. Jou onbaatsugtige pogings toon toewyding en deernis in aksie. Julle is die regte helde van die N3-tolroete,” sê Thania Dhoogra, bedryfshoof van N3TC. “
“Ons wil ook elke padgebruiker bedank wat geduldig, waaksaam en inskiklik gebly het onder baie moeilike omstandighede. Dit was ‘n geweldige moeilike tydperk vir almal wat geraak is, maar jy was fenomenaal in hoe jy veerkragtigheid en ‘n sterk gees openbaar het.”
Gift of the Givers was saam met insleepdienste, boere en ander rolspelers betrokke waar kombersie, beanies en kos aan die gestrande motoriste uitgedeel is.
Indien probleme op die N3 ondervind word, kan die hulplyn by 0800 63 43 57 gebel word.