GAUTENG. – Sifiso Mkhwanazi (22) is op ses aanklagte van, verkragting, moord, regsverydeling en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die Johannesburg-hooggeregshof skuldig bevind.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Mkhwanazi is in Oktober 2022 in hegtenis geneem nadat die liggame van ses vroue op ‘n paneelklopperseel in Rosettenville gekry is. Die opsigter op die perseel, die beskuldigde se pa, het op ‘n dag die liggaam van ‘n vrou in ‘n ongebruikte kantoor ontdek, waarna hy die perseeleienaar en die polisie ontbied het.
Tydens die polisie se ondersoek is nog vyf liggame van vroue in verskillende plekke op die perseel gevind.
Mjonondwane sê die staat het beweer Mkhwanazi het die vroue, sekswerkers van Johannesburg, tussen April en Oktober 2022 verkrag en vermoor. Die beskuldigde het eers onskuldig gepleit, waarna hy erken het hy het die vroue verwurg, maar hy het verkragting ontken en gesê dit was konsensuele seks vir geld.
Oortuigende bewyse is regdeur die verhoor verskaf. Sers. Bongani Mbonambi, die ondersoekbeampte, het die forensiese analise aangebied en getuieverklarings is aangehoor wat op die beskuldigde se skuld gedui het.
Leswikane Mashabela, die senior staatsadvokaat, het aan die hof voorgehou Mkhwanazi het beplan om die sekswerkers te vermoor en dat daar geen konsensuele seks tussen die beskuldigde en sy slagoffers plaasgevind het nie.
“The NPA reaffirmed its commitment to combating gender-based violence and continues to work tirelessly to create a society where all individuals can live free from fear and harm.”





