OOS-KAAP. – Lwando Ntiayantia (36) en Nkosekhaya Lloyd (38) is Maandag deur die Makhanda-hooggeregshof op vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord en drie aanklagte van poging tot moord en drie aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie gevonnis.
Lt.kol. Avele Fumba sê die twee rowers is op 25 Maart 2022 vir die gewapende roof van ‘n G4S- gepantserde voertuig deur Centane-misdaadvoorkominsgseenheid in hegtenis geneem. Die betrokke dag van die inhegtenisneming het ‘n skietery tussen die rowers en die polisie ontstaan en ‘n onskuldige omstander wat deur die verdagtes as ‘n skild gebruik is, het gesterf. Die polisie kon daarin slaag om die rowers in hegtenis te neem.
Tydens ‘n ondersoek van die Valke in Oos-Londen is die twee rowers aan verskeie transitorooftogte verbind. Verskeie hofverskynings het gevolg. Beide die rowers is afsonderlik op aanklagte gevonnis, terwyl sekere aanklagte se vonnisse gelyktydig uitgedien sal word.
Ntiyantiya is vir 12 aanklagte soos volg gevonnis: vir roof met verswarende omstandighede (aanklagte 1 tot 4) – 15 jaar, moord (aanklag 5) – lewenslank, poging tot moord (aanklag 6 tot 8) – vyf jaar, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen (aanklag 9 tot 11) – 10 jaar en vir die besit van ammunisie (aanklag 12) – drie jaar tronkstraf.
Lloyd is ook op12 aanklagte gevonnis: roof met verswarende omstandighede (aanklagte 1 tot 4) – 15 jaar, moord (aanklag 5) – lewenslank, poging tot moord (aanklagte 6 tot 8) – vyf jaar, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen (aanklagte 9 tot 11) – 10 jaar en besit van ammunisie (aanklag 12) – drie jaar tronkstraf.
Beide sal dus lewenslank en nog 216 jaar tronkstraf uitdien.
Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya het die ondersoekspan en die NVG vir die sukses geprys.





