GAUTENG. – Musa Maicana (27), wat tussen April 2014 en Junie 2019 in en om Tembisa ‘n reeks verkragtings gepleeg het, is deur die Johannesburg-hooggeregshof op 43 aanklagte tot drie lewenslange vonnisse, plus meer as 300 jaar tronkstraf, gevonnis.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Maicana is vir verkragting, ontvoering, aanranding met ’n vuurwapen, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n gevaarlike wapen aangekla.
Meer as 12 saakdossiere met dieselfde modus operandi, waar vroue op hul pad huis toe in Norkem Park en Tembisa aangeval is, is by die polisie geregistreer. Die slagoffers kon nie die aanvaller identifiseer nie, aangesien hy hulle van agter genader en daarna met ‘n vuurwapen of mes gedreig en na afgeleë plekke gedwing het. Daar sou hy hulle van hul besittings beroof en dan verkrag. Sers. Lesford Mawale kon nadat Maicana vir ‘n Tembisa-verkragtingsaak in Junie 2019 in hegtenis geneem is, hom deur DNS met nog 12 sake verbind.
Adéle de Klerk, senior staatsaanklaer, het die hof gevra om geen genade aan die beskuldigde te betoon nie, omdat hy totale minagting getoon het vir die waardigheid en liggaamlike integriteit van die slagoffers wat hy aangerand het. Sy het verder aangevoer dat die erns van die saak sodanig is dat die beskuldigde permanent uit die samelewing verwyder moet word.





