MPUMALANGA. – Themba Prince Shongwe (36) is vir verskeie aanklagte van moord en verkragting van jong slagoffers in Embalenhle, tot nege keer lewenslank deur die Secunda-streekhof gevonnis.
Brig. Donald Mdhluli sê die misdaad is tussen 2016 en 2018 gepleeg, waarna Shongwe Woensdag gevonnis is. Vier jong meisies het gesterf, maar ‘n ander slagoffer het wel oorleef. ‘n Slagoffer (16) is op 5 Junie 2016 beroof en verkrag. Nokulunga Nkutha (11) het op 12 Augustus 2016 vermis geraak en haar liggaam is die volgende dag gevind. Cynthia Masilela (16) het op 28 Junie 2017 nie by die huis opgedaag nie en haar liggaam is die volgende dag gevind. Lerato Nkutha (11) het op 7 Mei 2018 vermis geraak en haar liggaam is drie dae later ontdek. Mihle Philisiwe Zinganto (11) het op 7 November 2018 vermis geraak, waarna haar liggaam gevind is.
‘n Span ondersoekers het aan die sake gewerk, waarna Shongwe op vyf aanklagte van verkragting en vier aanklagte van moord gearresteer, skuldig bevind en lewenslank op elke aanklag gevonnis is.





