WES-KAAP. – Lungile Buhlungu (40), ‘n reeksverkragter, is deur die Kaapse hooggeregshof tot ses lewenslange vonnisse en ’n bykomende 50 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Ses vroue was tussen 2014 en 2019 Buhlungu se slagoffers.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Esna Erasmus, die senior staatsaanklaer, het die emosionele verhoor van die vroue hanteer. Hulle getuienis is agter geslote deure aangehoor om hulle identiteit te beskerm.
Die eerste drie slagoffers is op 11 Julie 2014 deur die beskuldigde en ‘n medepligtige in Delft met vuurwapens die bosse ingedwing waar hulle beurtelings verkrag is. Een slagoffer is met ’n skoot in die lug geïntimideer. Die vierde slagoffer is op 5 Oktober 2017 aangeval en na bewering in ’n plaaslike begraafplaas verkrag. Sy is bewusteloos gevind en moes uit die provinsie verhuis. Die laaste twee slagoffers is op 12 Mei 2018 met ’n voertuig na dieselfde begraafplaas geneem, met vuurwapens gedreig en verkrag.
Die beskuldigde is in 2019 in hegtenis geneem en deur DNS aan die misdade verbind. Buhlungu, ’n pa van ses, het onskuldig gepleit en beweer hy was in 2014 in Pollsmoor-gevangenis. Hy het omgang met die 2017-slagoffer as konsensueel beskryf en ontken dat die 2018-gevalle verkragtings of rooftogte behels het. Hy het aangedui dat hy die slagoffers eendag wil ontmoet om vir hulle te sê hulle is verkeerd.
Die hof het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Buhlungu is op ses aanklagte van verkragting, twee van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike skade aan te rig, vier van ontvoering, een van roof met verswarende omstandighede en een van onwettige besit van ’n vuurwapen skuldig bevind. Die vonnisse sluit in: lewenslange tronkstraf vir elke verkragting, vyf jaar elk vir die aanrandings, vyf jaar elk vir die ontvoerings, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir die vuurwapenbesit.
Lt.kol. Elmarie Alta Myburgh het getuig oor Buhlungu se hoë risiko vir herhalingsmisdade weens faktore soos seksuele geweldsdenke, gebrek aan berou, substansmisbruik, gewelddadige geskiedenis en ander risikofaktore by reeksverkragters aangetref. Sy het verklaar dat sodanige oortreders nie vanself ophou nie en slegs deur inhegtenisneming gestop kan word. Adv. Erasmus het aangevoer dat elke slagoffer lewenslange gevolge van hul traumatiese ervarings dra.
Die slafoffers het emosioneel geraak tydens die verhoor toe hulle hul aanvaller in die oë gekyk het.
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging, het die ondersoek- en vervolgingspanne vir hul volgehoue werk geprys en die slagoffers bedank vir hul moed om te getuig en geregtigheid te laat geskied.
Buiten tronkstraf is Buhlungu onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die departement van korrektiewe dienste is ook beveel om hom binne ses maande vir sielkundige evaluering te laat gaan.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





