GAUTENG. – ‘n Regter, ‘n kerkleier van ‘n bekende kerk en twee verdagtes is Dinsdagaand op aanklagte van korrupsie en geldwassery in hegtenis geneem. Nog drie verdagtes is geïdentifiseer en lasbriewe is vir hulle inhegtenisnemings uitgereik.
Daar word beweer dat die voorsittende regter vergoeding ontvang het vir ‘n gunstige uitspraak in ‘n siviele saak in die Pretoria-hooggeregshof.
Volgens kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, is die eerste inhegtenisnemings gemaak tydens ‘n operasie in ‘n ondersoek wat deur die vervolging gelei is. Die saak hou verband met ’n Suid-Afrikaanse kerk wat reeds lank in ’n geskil gewikkel is. Vergoeding is glo deur die regter van die hoofverdagte ontvang. Die ondersoek het ’n beweerde geldvloei van miljoene rand tussen die betrokke rolspelers blootgelê.
Die vier verdagtes sal na verwagting vanoggend, Woensdag, in die Pretoria-handelsmisdaadhof verskyn.




