LIMPOPO. – ‘n Rehabilitasiesentrum-eienaar (30) is in hegtenis geneem nadat ‘n man (29) op 14 Julie aan ernstige beserings in die Mankweng-hospitaal beswyk het.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die slagoffer is op 2 Julie van sy woning in Ga-Sekgopo na die sentrum geneem. Hy is na bewering aangerand en is ten spyte van sigbare beserings in afsondering toegesluit. Op 10 Julie is hy na sy huis teruggeneem, waarna hy met kritieke beserings in ‘n hospitaal opgeneem is. Hy het op vier dae later in die hospitaal aan sy beserings gesterf.
’n Nadoodse ondersoek is daarna uitgevoer en het ernstige beserings bevestig. Die aanvanklike geregtelike doodsondersoek is daarop na ’n moordsaak verander. Die verdagte is op 22 Julie deur lede van die Modjadjiskloof-polisiekantoor in hegtenis geneem. Hy sal vandag op ‘n aanklag van moord in die Modjadjiskloof-distrikshof verskyn.
Polisie-ondersoeke duur voort.





