Resies om helium 3 op maan te ontgin

Lees ook :

Foto ter illustrasie: ITER en Canva

Pieter Geldenhuys, direkteur van die Instituut vir Tegnologie, Strategie en Innovasie van die Londense Sakeskool het Maandag op RSG se Geldsake met Moneyweb oor die moontlikheid van helium-ontginning op die maan gesels.

Verskeie lande wedywer glo om ’n mynbasis op die maan te vestig waar hulle helium 3 kan ontgin. Dit kan na bewering die energiebedryf op ons planeet in rep en roer hê.

Volgens Geldenhuys is daar ’n groot navorsingsprojek in Frankryk aan die gang wat deur 22 lande gefinansier en 35 lande ondersteun word. Die navorsingsprojek, genaamd die International Thermonuclear Experimental Reactor (ITER) poog om die wêreld se grootste magnetiese samesmeltingstoestel te bou wat op dieselfde beginsels as energie-opwekking van die son en sterre gebaseer is.

Helium 3 is een van die hoofstowwe wat in so ’n toestel gebruik kan word. Een voordeel van helium 3 is die lae radio-aktiewe impak van die opwekking op die omgewing. Die stof is egter skaars en duur. Geldenhuys beweer dat dit tans vier miljoen dollar per ton werd is.

In 2014 het China die helium 3-liggings op die maan gekarteer. Volgens Geldenhuys is die groot hoeveelheid helium 3 op die maan te danke aan die feit dat die maan geen magnetiese veld rondom soos die aarde het nie. Die sonradiasie het dus veroorsaak dat die konsentrasie van die stof op die maan groter is.

“Die probleem is nie om ’n robot op die maan te kry nie … jy kan dit met sonenergie aandryf. Die probleem is om die helium 3 terug op die aarde te kry. Dit is hoekom almal met groot oë na Elon Musk se Star Ship kyk, want dit is een van die moontlike voertuie wat oor die volgende tien tot vyftien jaar gebruik kan word om van die helium 3 terug te bring aarde toe,” het  Geldenhuys gesê.

ITER se beplanning is om die toestel teen 2035 aanlyn te kry. Die toetsprosesse sal dan begin. China, die Europese Unie, Indië, Japan, Rusland en die VSA het hulle hulpbronne saamgevoeg om energiebronne in die ruimte te ondersoek.

 Bronne: RSG, Moneyweb, ITER

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief