WES-KAAP. – Ian Cameron, voorsitter van die polisie se portefeuljekomitee, het die publiek gevra om nooddienste te respekteer. Dit volg nadat ’n ambulans hierdie naweek op die N2 naby die Macassar-brug onder die klippe gesteek is.
Cameron sê in ‘n sosialemediaplasing aanvalle op ambulans- en polisiebeamptes is roekeloos en gevaarlik, aangesien hulle probeer om mense in nood te help. Hy beklemtoon dat sulke geweld nie geduld kan word nie en dat verantwoordelikes aanspreeklik gehou moet word.
Volgens hom behoort nooddienswerkers nooit te vrees vir aanvalle terwyl hulle hul werk doen nie, en respek vir hulle is nie onderhandelbaar nie.





