Roekelose bestuur wat 6 lewens eis, lei tot 10 jaar tronkstraf

Lees ook :

Foto: Regering van Suid-Afrika

KWAZULU-NATAL. – Celumusa Ngwenya (35) het op 17 Julie 2022 deur roekeloos te bestuur die dood van ses familielede van Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, gekos. Ngwenya is in die Ladysmith-streekhof vir 10 jaar tronk toe gestuur.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê Ngwenya is skuldig op ses aanklagte van strafbare manslag. Die oorledenes – Chikunga se seun, sy vrou en vier kinders – was tussen 4 en 40 jaar oud. Ngwenya het skuldig gepleit. Op die betrokke dag het Ngwenya op die N11-hoofweg buite Ladysmith 158 km/h in ‘n 80 km-sone gery. Hy het oor ‘n dubbele versperringslyn op ‘n draai verbygegaan en ‘n ongeluk veroorsaak. Ngwenya is gedagvaar om in Januarie 2024 in die hof te verskyn.

Staatsaanklaer Sathsha Budhram het ter strafverswaring adv. Makhosini Msibi van die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) se bewyse voorgehou. Suid-Afrika het ongeveer 12 541 voertuigverwante ongelukke p.j. wat die ekonomie ‘n verbysterende R198 bn. kos. ‘n Voertuigopsporingsverslag is by die hof ingehandig.

Al ses aanklagte is saam verhoor, daarom sal Ngwenya effektief 10 jaar tronkstraf uitdien en sy bestuurderslisensie is volgens die padverkeerswet gekanselleer.

Die NVG het die suksesvolle afhandeling van die saak verwelkom.

Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, het die vonnis vir haar familielede wat uitgewis is, verwelkom.

“Dit gaan egter nie my kinders terugbring nie. Dit is ses kinders wat ‘n blink toekoms voor hulle gehad het.”

Ngwenya het self drie kinders en het in 2018 sy regterbeen weens ‘n ongeluk verloor. Hy het in R1.8 m. in 2022 van die padongelukkefonds ontvang. Hy het ‘n bakkie met die geld aangeskaf en het ten tyde van die ongeluk waarvoor hy gevonnis is met sy linkervoet bestuur. Vir sy regterbeen het hy ‘n prostese gehad. Enkele maande voor die noodlottige ongeluk het hy vir ‘n swaarvoertuiglisensie by Randburg-toetssentrum aansoek gedoen en ‘n lisensie om ‘n ligte motorvoertuig te bestuur is uitgereik. Die uitreiking van die lisensie sal deur die padverkeersbestuurskorporasie ondersoek word.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief