KIMBERLEY – ’n Inwoner van die stad het ’n rommelstrooier in Wes-Einde in die veld op heterdaad betrap toe daar vullis gestort word.
Louise Bailey, wat foto’s van die voorval op ’n plaaslike Facebook-groep geplaas het, sê die stad sal nooit weer skoon kom nie.
Bailey sê dit is hoogtyd vir rommelstrooiers om genoem-en-verdoem te word. Volgens haar het die verdagtes glo van daar af na die veld by die Big Hole Driving Range gegaan om daar verder rommel te stort.
Ivanda Geldenhuys Hunt sê niks gaan verander tot die munisipaliteit wakker skrik en die mense begin beboet nie. Of jy nou werk het of nie, dit is jou saak hoe jy daai boete gaan betaal. Maar nee, dit is net deesdae makliker en mode om gemors neer te smyt en te sê dit is werkskepping. Kyk nou die dag hoe mense in Broadwaystraat met ’n kruiwa na veld loop reg verby waar munisipale werkers besig was om ’n drein oop te maak. Ons munisipaliteit het verslap en die meerderheid is net daar om hul cut te kry. Mense kla oor slaggate, vuilis, water, en meer, maar die publiek word nie terug geantwoord nie. Duidelik is die bestuur nie daar om hul werk in hul afdelings te doen nie. Niks gaan verander totdat die regte persone op die toneel verskyn en antwoorde demand en vordering dophou nie.”
Ian Mouton sê: “Stel jou voor die raad daag met die verkeersbeampte by jou deur op met foto’s van jou wat onwettig vullis stort en kry ’n lekker groot boete. Ek wil dit baie graag sien wanneer hulle beslag lê op jou voertuig.”