NOORD-KAAP. – Die Roodepan-polisiekantoor het vandag (Woensdag) saam met die gemeenskapspolisiëringsforum en die Roodepan-drankforum waardigheidspakkies met toiletware aan leerlinge van Hoërskool Homevale oorhandig.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring konst. Charmaine Mokgatlhe, die aangewese polisielid by die polisiekantoor, sê die doel van die inisiatief is om die welsyn van vroue, kinders en ander kwesbare groepe te ondersteun. Kapt. Thapelo Phineas, bevelvoerder van sigbare polisiëring, het leerlinge en onderwysers aangemoedig om saam met die polisie misdaad, veral misdade teen kwesbares, te beveg.
Kevin Andrews, die verteenwoordiger van die drankforum het gesê dit was ’n voorreg om die pakkies te borg en hy het leerlinge aangemoedig om hul studies voorop te stel.
Raadiya Amien, die skoolhoof, het haar dank teenoor die rolspelers uitgespreek en beklemtoon dat die pakkies aan die mees behoeftige leerlinge oorhandig sal word.