NOORDWES. – ‘n Enkelvoertuigongeluk het vandag (Maandag) veroorsaak dat ‘n rots op ‘n voertuig bokant ‘n vasgepende insittende beland het.
Hartbeespoort Emergency Medical Services (HEMS) sê die diens is saam met Station 21 Fire & Rescue na die toneel, op die R566, wat Brits deur Ga-Rankuwa en Rosslyn met Pretoria-Noord verbind. Toe die voertuig rol, het die rots met die impak van die ongeluk bo-op die voertuig te lande gekom. Indien dit verder sou val, sou die rots erge beserings of selfs die dood kon veroorsaak.
Brandweerpersoneel het vinnig met gespesialiseerde toerusting gewerk om die rots te stabiliseer, voordat die insittende uit die wrak gehaal kon word. Die insittende is dadelik behandel en daarna vir verdere mediese behandeling na ‘n hospitaal vervoer.





