PRETORIA, GAUTENG. – Naka (8), ’n geliefde rottweiler, sterk goed aan nadat hy tydens ’n beweerde mislukte huisbraak op 7 Maart gesteek is.
Sy eienaars in Zwavelpoort se elektriese heining het daardie oggend vroeg afgegaan. Hulle het gaan kyk wat aan die gang was en gesien van hulle honde is bedwelm. Naka is op sy rug aangetref. Volgens die eienaars het hy gesukkel om asem te haal. Hy het ook verskriklik gebloei.
Dit wil voorkom of Naka die vermeende inbrekers gekeer het om die huis te betree. Hulle het hom waarskynlik gesteek en op die vlug geslaan.
Naka is na die Valley Farm-dierehospitaal in Faerie Glen gehaas waar hy mediese behandeling gekry het.
Volgens die hospitaal het Naka se long platgeval en moes hy onder andere ’n bloedoortapping kry. Hy het ’n noodoperasie ondergaan en was vir ’n paar dae in die hoësorgeenheid.
Naka sterk tans goed aan en is reeds by die huis.
Die hospitaal het ’n video van hom na sy operasie gedeel. Kyk na die video hier.

Bronne: Valley Farm Animal Hospital, Facebook