In 2009 het ek gedink ek het alles wat ’n jong man kon begeer: ’n suksesvolle restaurant, ’n kroeg tot my beskikking, goeie finansies, lekker pelle, en genoeg aandag van die skoner geslag. Van buite af het dit gelyk asof ek gelukkig is, maar ek was nie.
Iets het gekort. Ek was depressief en daar was niks waarna ek regtig uitgesien het nie. My lewe het leeg gevoel, sonder doel. Ek was soos ’n hamster in ’n wiel — elke dag, week en maand het net herhaal.
Toe ontmoet ek ’n vriend wat vir my van die Here begin vertel. Ek kan die storie lank rek, maar om dit kort te hou: ek het hom een dag werk toe genooi en hom begin uitvra oor alles wat my pla. Aan die einde van die gesprek stuur hy vir my die sogenaamde “sondaarsgebed” per SMS – daardie tyd was daar nog nie iets soos WhatsApp nie.
Daardie aand, alleen op my bed, lees ek dit weer. Ek maak my oë toe en gee my hart vir die Here.
Dit was nie ’n dramatiese Damaskuspad-bekering soos Paulus s’n nie. Geen donderweer of helder ligte nie. Maar wat ek wel ervaar het, was ’n ontsaglike verligting, soos ’n berg wat van my skouers afgeval het. Ek het beheer van my lewe oorgegee aan Iemand groter as ek, en dit het my ongelooflike vrede gegee.
My lewe was nooit weer dieselfde nie. Ek het letterlik ’n nuwe mens geword. Dis asof my oë oopgegaan het en ek kon die groter prentjie begin sien.
Dít is my getuienis van redding. Eenvoudig, ja, maar vir my die grootste gebeurtenis van my lewe.
En dis die wonder van ’n getuienis: dis jóú storie. Dit maak nie saak of ander jou glo of nie. Jy weet dit is waar, want dit het met jou gebeur.
As jy ’n kind van God is, weet jy hoeveel krag daar in jou storie lê? Jy hoef nie ’n evangelis of geestelike leier te wees om ander na Hom toe te trek nie. Jy het reeds iets om te deel. Vertel net wat Hy in jou lewe gedoen het. Jy sal verbaas wees oor hoe stigtend dit vir ander kan wees en hoeveel mense dalk presies daardeur aangeraak word.
Weet jy deur watter twee dinge ons die vyand oorwin?
Lees gerus Openbaring 12:11:
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”
Die bloed van die Lam en jou eie getuienis – jy het reeds albei tot jou beskikking.
Wat keer jou, my broer en suster?





