Dis een van die grootste teenargumente teen die Christendom. En om eerlik te wees, dié wat dit vra, het seker ’n geldige punt beet.
As ek sê dat my God ’n God van liefde is, hoe is dit dan moontlik dat Hy iemand vir ewig in die hel sou laat beland – net omdat daardie persoon nie in Hom glo nie of Hom verwerp?
Die antwoord is eintlik eenvoudig, maar om dit te verstaan, moet jy eers vir God ’n bietjie beter leer ken.
En hier is die kern: Hy is regverdig.
Dink daaroor soos volg: Die wet van ’n land is veronderstel om regverdig te wees. Jy verwag van jou ouers om regverdig te wees. Jy wil hê mense in gesagsposisies moet regverdig optree. Maar die probleem is: hulle is almal net mense. Mense kan beïnvloed, omgekoop of mislei word. Hulle kan selfsugtig of onkundig wees.
Maar daar is net Een wat volkome regverdig is – en dit is God.
As ons Hemelse Vader ’n sak meel tussen twee van Sy kinders moes verdeel, sou Hy dit tot op die laaste greintjie gelykop deel, al moet Hy ’n meelvlokkie halveer. Dis wie Hy is. Hy is regverdig.
Sal jy sê dis regverdig as ’n regter in die hof ’n kindermoordenaar vrylaat, net omdat hy ’n liefdevolle mens is en jammer voel vir die oortreder? Nee! Dit sou onregverdig wees.
Of dink aan twee mense wat ’n bestuurslisensietoets skryf. Die een druip, die ander slaag. Sou dit reg wees as altwee maar ’n lisensie kry? Glad nie! Die een wat druip, moet die prys betaal en weer probeer.
Gehoorsaamheid verdien beloning. Ongehoorsaamheid verdien straf. Sonder daardie balans, bestaan daar nie regverdigheid nie.
As God heerlikheid en die ewige lewe belowe vir gehoorsaamheid en getrouheid, dan moet Hy logies ook die teenoorgestelde toepas vir diegene wat Hom verwerp. Anders sou Hy nie waarlik regverdig wees nie.
God sê nie net Hy is regverdig nie, Hy is dit in wese. En omdat Hy só regverdig is, sal selfs die hemel én die hel vlakke hê, afhangend van jou dade op aarde.
Ek weet die idee van die hel klink nog steeds hard, maar hier’s die goeie nuus: jy hoef nie hel toe te gaan nie!
God vergewe nie sonde deur dit bloot te ignoreer nie. Hy moes steeds getrou bly aan Sy eie geregtigheid. Daarom het Hy ’n duur prys betaal om versoening moontlik te maak.
Hy het Sy Seun gegee om in jou plek te sterf. Jesus het die volle prys betaal vir jou skuld. Al wat jy nou hoef te doen, is om dit aan te neem.
Die hel is nie vir mense gemaak nie. Dit is voorberei vir die duiwel en sy engele. Maar as jy kies om sonder God te leef – en sterf in daardie toestand – dan is dit ongelukkig waar jy sal beland.
God het egter alles gedoen wat nodig is sodat jy die ewige lewe kan hê. Nou lê die keuse by jou: lewe of dood, seën of vloek, hemel of hel, vir Hom of teen Hom.
Psalm 89:14
Regverdigheid en reg is die fondament van u troon; liefde en trou gaan voor u aangesig uit.





