Rubriek deur Bert Mostert: Is jy getrou in die klein dinge?

Lees ook :

Het jy al ooit koffie vir gaste gemaak, en dan lek jy per ongeluk jou lepel af en gebruik dit weer in die ander se beker? Hulle sien mos nie, en dit kan nie skade doen nie. Of erger, so iets gebeur as jy kosmaak vir ander? Of jy is by die werk en steek so bietjie lyf weg. Doen ‘n taak halfhartig, maar dit sal oraait wees, want die baas sal in elk geval nie weet nie. Kom ons neem die teenoorgestelde – as jy iets goeds doen wat niemand sien nie. Dalk die besigheid geld spaar deur ‘n fout op te tel – sal jy daaroor stilbly en nie krediet gaan soek nie?

As jy skuldig is aan al bogenoemde oortredings, baie geluk, jy’s ‘n mens. Ons almal doen dit af en toe. Die regte gesindheid is natuurlik om alles te doen asof jy dit vir die Here doen, en nie vir mense nie.  

Die Woord leer ons in Lukas 16:10 die volgende:

“Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan.”

Miskien is jy al vir jare lank reg vir jou bevordering, of vir die nuwe deur wat in jou lewe moet oopgaan. Maar jy is nog nie getrou in die geringe dinge nie, so ons Vader kan jou nie met die groter dinge wat vir jou bestem is, vertrou nie.

Streef daarna om ‘n voortreflike gees soos Daniël te hê, wat in sy tyd bo die ministers en landvoogde uitgeblink het. Mag alles wat jy doen tot die beste van jou vermoë wees, al sien niemand jou nie. Want daar is Een wat altyd sien, en Hy sal jou op die regte tyd daarvoor vergoed!

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief