Rubriek deur Bert Mostert: Moet ek opofferings vir ander maak?

Lees ook :

Ek is nie baie lief vir byeenkomste nie. Of dit nou ‘n kerkkamp, ‘n sportdag of ‘n verjaarsdagpartytjie is, my eerste instink is gewoonlik om “nee” te sê of ‘n verskoning uit te dink om dit te vermy. Die ironie is dat ek eintlik van mense hou! Ek het ‘n diep liefde vir die mensdom – elke persoon het ‘n unieke storie en persoonlikheid, en dit fassineer my om te hoor hoe hulle die wêreld beleef en wat hul passies en drome is. Maar ongelukkig put mense my uit, en byeenkomste selfs meer.

Maak dit my ‘n slegte vriend, broer of seun? Dalk. Maar ek probeer ten minste.

Ek het ‘n vriend, Deon, wat een aand na sy selgroep toe gery het ná ‘n lang en uitputtende dag by die werk. Hy het vir homself gesê dat hulle die aand gaan kort hou, want hy wou vir ‘n slag vroeër by die huis kom. Min het hy geweet dat daar daardie aand twee mense sou wees wat regtig ‘n aanraking van die Here nodig gehad het. Ná die tyd het hy my vertel hoe die Here daardie aand net oorgeneem het en Sy kinders bedien het. Nie net was dit ‘n seën vir daardie twee persone nie, maar dit het die hele groep gestig. Uiteindelik het my vriend nie sy vroeë aand gekry waarna hy gesmag het nie…

Het jy al daaraan gedink dat wanneer jy iemand help, dit gewoonlik ‘n opoffering van jou kant af vra? Jy moet dalk ‘n fliek pause as gevolg van ‘n motor wat gaan staan het, of ‘n braai kanselleer weens ‘n familiekrisis. Daar is soveel voorbeelde.

Dis maklik om net na jouself te kyk en te voel asof jy altyd vir ander opoffer, maar het jy al gewonder wie dieselfde vir jou doen sonder dat jy dit eens besef?

Ek glo ons Vader het daardie aand na Deon se behoefte gekyk, maar ook gesien dat die ander twee dit méér nodig gehad het. Hy sien alles en verstaan alles. Ons weet min van wat ander mense deurmaak en wanneer hulle ‘n deurbraak nodig het. God gebruik ons soms op maniere waarvan ons eers jare later hoor – of dalk nooit.

Is daar nie ‘n gedeelte in die Bybel wat sê: “Wat jy saai, sal jy maai” nie? As ek vir God telkens “nee” sê weens ongerief, en nie bereid is om ander te help nie, sal daar iemand wees wat later my pad kruis wanneer ek dit nodig het?

Maak jou hart oop vir jou medemens – of hulle gelowiges is of nie. God weet, en Hy sal jou op die regte tyd daarvoor seën.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief