RUBRIEK: Hoekom wag jy so lank vir die begeerte van jou hart?

Lees ook :

Jy staan in ‘n groot vertrek gevul met allerlei ornamente en foto’s van die verlede en hede. Daar is twee deure, die een is oop waardeur jy ingekom het en die tweede is toegesluit. Jy staan voor die massiewe toe deur van swaar hout, druk daarteen en sien dis onbeweegbaar.

Jy skrik toe ‘n stem langs jou sê: “Agter daai deur is ‘n skat met jou naam op.” Die man het ‘n sagte baard en lang hare, met hemelblou oë. Al het hy niks gesê nie, sou daai oë ‘n duisend stories vertel terwyl jy daarin verlore raak. Jy glo wat Hy sê, jy weet Hy kan nie lieg nie.  

Opgewonde oor jou skat, draai jy die grendel van die deur, maar niks gebeur nie. Jy draai om, maar die man is weg, jy is weer alleen. Die begeerte vir die skat begin brand in jou binneste, met elke asem smag jy meer daarvoor. Jy probeer weer, dié keer met vors – maar niks. Skoon angstig begin jy die swaar deur slaan, stamp jou skouer daarteen – niks. Jy gee nie meer om oor wie wat sê nie en trek terug en trap die deur – niks. Woede neem oor en jy raak soos ‘n besetene, maar niks wat jy doen, werk nie. Moeg en gefrustreerd sak jy op die vloer neer, trane in jou oë. Jy roep, maar die man antwoord nie…

Soveel tyd het al verbygegaan met jou voor die deur, jy weet nie meer of dit maande of jare is nie. Jou hart word elke dag ‘n bietjie kouer, jou hoop neem af. Jou vertroue in die man is nie meer wat dit was nie, gee Hy eens om? Moedeloos staan jy op en verlaat die vertrek met ‘n leë hart en ‘n gebroke droom.

Maar dis nie al hoe hierdie storie kan eindig nie. Kom ons draai die band weer terug tot aan die begin, net nadat die eerste dag in die kamer verby is.

Jy besef die deur kan nie oop nie, ten minste nie nou nie. Maar jy glo ook dat Hy die waarheid gepraat het. So jy maak vrede daarmee en beweeg aan. Jy weet dat hierdie deur en jou paadjie iewers voorkant toe weer sal kruis.

‘n Paar jaar gaan verby en jy bevind jouself weer in die kamer. Jy’s ouer, wyser, sterker. Jy voel nog steeds die begeerte in jou hart vir die skat, dit het nooit weggegaan nie. Jy staan voor die deur en sê: “Vandag is ek reg!” Jy het gegym sedert jy laas hier was en jy weet nou ‘n ding of twee van deure. Jy trek terug en skop met jou hele gewig, jou hele krag. Jou voete is reg geplant op die grond, goed balanseer, heupe roteer perfek. Jou voet slaan die deur op die regte plek, net langs die grendel. Met ‘n harde klap vlieg die deur oop, die vors so groot dat dit byna by die skarniere loskom!

En daar staan die goue kis met jou naam op, vol van allerhande edelgesteentes en prag. En wie sou nou kon raai, die man met die hemelblou oë staan langs jou skat!

“Hoekom moes ek so lank gewag het?” vra jy.

“Want die kis is so swaar soos wat die deur sterk is. Jy sou dit nooit hier kon uitkry nie. Ek moes jou eers buite voorberei om hier binne suksesvol te wees.” Spreek die Waarheid. “Almal se skatte is anders, almal se paaie ook”, voeg Hy by.

Loop jy met ‘n droom in jou hart rond? Het God jou dalk iets belowe en dit smaak dit wil net nie realiseer nie? Of jou skat nou groot of klein, een of baie is, as dit van Hom af kom, dan sal Hy eers sorg dat jy reg is daarvoor.  

So, moenie by die deur gaan kampeer soos die eerste persoon nie, hou die droom lewendig en vra jou Vader wat Hy jou in die proses wil leer. En as die tyd reg is, sal jou blydskap oorvloedig wees!

Jak 1:17  Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. 

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief