Dit is ‘n vraag wat al die afgelope paar maande aan my knaag. Sedert die vrystelling van die fliek The Age of Disclosure verlede jaar, het belangstelling in die moontlikheid van buiteaardse lewe wêreldwyd toegeneem. Dit het selfs die punt bereik waar Donald Trump in Februarie vanjaar verklaar het dat hy federale agentskappe, insluitend die Pentagon, sou opdrag gee om lêers rakende UFO’s, UAP’s en moontlike buiteaardse lewe te deklassifiseer en bekend te maak.
Sedertdien daardie opdrag het ons al baie snaakse dinge gesien en gehoor, en blykbaar is dit maar nog die “laaghangende vrugte” volgens die kenners. Hulle sê daar is nog 4k-beeldmateriaal op pad.
Ek wonder as ek vandag in die kerk sou vra dat mense hulle menings oor hierdie verskynsels gee, hoeveel verskillende antwoorde ek sou kry? Het ons as Christene ‘n goeddeurdagte antwoord hierop, of gaan ons maar die wêreld volg en hulle gevolgtrekkings aanvaar?
Ek wonder ook hoeveel Christene se geloof dalk skade kan ly as daar eendag amptelike verklarings gemaak word waarvoor hulle nie voorbereid is nie. Aan die ander kant wonder ek hoeveel mense ons dalk na die Here kan lei as ons wel intelligente en Bybels-verantwoordbare antwoorde op hierdie moeilike vraag het.
Sê ons eenvoudig hierdie dinge bestaan nie? Of plaas ons dit gerieflik in die kategorie van “dis demone” en beweeg aan? Ons geloof is tog gegrond op gesonde redenasie, geskiedkundige bewyse en waarhede wat nie bang is vir ondersoek nie. Ons het Bybelgeleerdes, Christelike apologetiek en toegewyde leraars, maar wanneer die onderwerp van aliens of buiteaardse intelligensie ter sprake kom, lyk dit soms asof die gesprek vinnig afgesluit word met die opmerking dat ons eerder op Jesus moet fokus.
Natuurlik moet ons op Jesus fokus. Maar beteken dit dat ons moeilike vrae moet vermy?
My vraag aan jou vandag is dus:
Is die kerk reg vir die dag wanneer dit amptelik aangekondig word dat intelligente buiteaardse lewe bestaan?
En tweedens: behoort ons geestelike leiers ons oor hierdie onderwerp toe te rus, of is dit glad nie nodig nie?
Dalk moet die kerk nie bang wees vir nuwe vrae nie, maar eerder gevaarlik goed word daarmee. Want ’n geloof wat nie vrae kan hanteer nie, sal sukkel om ’n wêreld wat vrae skree, te bedien.
1 Petrus 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.





