Die sanger Rudi Claase het Maandag aangekondig sy “Afrikaans het Gees”-vertoning wat op 24 Augustus 2024 in die Moraleta-kerk in Pretoria sou plaasvind, na Augustus 2025 weens sy swak gesondheid uitgestel moet word.
In sy Facebook-plasing sê hy, hy het lank genoeg stilgebly oor sy “werklike” mediese toestand. Claase is einde 2023 vir meer as drie maande gehospitaliseer na ingewandsprobleme veroorsaak het dat hy verskeie operasies moes ondergaan. Hy was 24 dae aan ’n ventilator gekoppel en gesedeer vir pyn.
Claase is stukkend oor die konsert wat hy moet uitstel. “Ek is te siek en daar is te veel komplikasies om dit nou te doen.”
Saam met sy aankondiging het hy sensitiewe foto’s van sy tyd verlede jaar in die hospitaal gedeel. “Ek wys dus nou vir julle hoe ek gelyk het … laat die wat my liefhet met reg sien en dat die wie my ’n aandagvraat noem, … kan waarneem hoe goed ek kan ‘toneelspeel’.”
Die presiese datum van die nuwe vertoning sal binnekort aangekondig word.
Nuusflits het só oor Claase tydens sy siekbed berig.
Bron: Rudi Claase Facebook