LONDEN. – ’n Boeing 737 van Ryanair met 172 passasiers aan boord het so byna met ’n helikopter bo die Stansted-lughawe in Londen gebots toe die kaptein nie besef het die stuuroutomaat (autopilot) en outostukrag (autothrust) was af nie.
Lees ook: Delta lugredery bied $30 000 aan passasiers na ongeluk
Die vliegtuig was op 8 Maart 2024 op pad om te land toe die eerste vlieënier die kontroles aan die kaptein oorhandig het om die rekenaar vir landing voor te berei. Die kaptein het egter nie geweet die outomatiese kontroles was af nie.
Die Boeing het 550 voet geval voor hulle besef het wat fout is. Dit het te laag gevlieg op dieselfde oomblik wat ’n helikopter ongeveer 2 000 voet bo die lughawe gevlieg het.
Die vliegtuig was slegs 300 voet bo die helikopter en was sekondes van ‘n botsing af voor die kaptein weer beheer oor die vliegtuig kon neem en veilig land.
’n Verslag oor die voorval is nou eers vrygestel en daarin het die eerste vlieënier gesê hy het aangeneem die kaptein weet hy het nie die outomatiese kontroles gebruik nie.
Dié insident toon skrikwekkende ooreenkomste met die ramp van 29 Janauarie toe ‘n passasiersvliegtuig met ‘n weermaghelikopter bokant Washington gebots het en 67 mense dood is.
Bronne: Daily Mail, The Mirror, The Sun
Lees ook: Delta lugredery bied $30 000 aan passasiers na ongeluk