VICTORIA-WES, NOORD-KAAP. – Drie verdagtes is in hegtenis nadat skaapkarkasse Vrydag in hulle besit gevind is toe hulle ’n saamrygeleentheid na Victoria-Wes gekry het.
’n Motoris het Vrydagmiddag 17:00 die drie verdagtes ’n saamrygeleentheid na Victoria-Wes gegee toe hy opmerk hulle het ’n sak en bloedbevlekte klere by hulle. Hy het reguit na die naaste polisiestasie gery.
Een man is by die polisiestasie in hegtenis geneem. Beslag is op skaapkarkasse ter waarde van R3 000 gelê.
Nog twee mans het op vlug geslaan. Een het homself op 20 Mei aan die SAPD oorhandig. Die laaste verdagte is ook op 20 Mei in hegtenis geneem nadat hy 5 km te voet in ’n veld deur owerhede agternagesit is.
Volgens die SAPD sal die verdagtes binnekort in die Victoria-Wes-landdroshof verskyn.
Bronne: SAPD, Gemsbok





