Donald Trump het sedert hy weer as die Amerikaanse president aan bewind is, alle federale finansiering aan Suid-Afrika onttrek, maar wel hulp aan plaasboere en hulle gesinne aangebied.
Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, het die nuutste aanbod van Trump op X gedeel. Trump sê onder meer: “They are confiscating their land and farms, and much worse than that. Any farmer (with family) from South Africa, seeking to flee that country for reasons of safety, will be invited into the United States of America with a rapid pathway to Citizenship.”
Trump het in die X-plasing gesê die proses begin onmiddellik.
Kriel sê voorts Trump se kommer oor die veiligheid van boere in Suid-Afrika is verstaanbaar, aangesien die ANC-regering weier om plaasmoorde en ander misdade as prioriteitsmisdade te verklaar. Hy waarsku dat verantwoordelikheid vir die verlies aan voedselsekerheid geneem sal moet word. “Die wêreld kan ook sien dat president Ramaphosa onwillig is om uitsprake soos “Kill the Boer” te veroordeel en ontken selfs die bestaan van plaasmoorde (wat in baie gevalle met marteling gepaardgaan). Hierdie situasie word verder vererger deur die feit dat sommige partye in die RNE saam met die ANC “misinformasie” skree wanneer besware teen die onteieningswet en plaasmoorde geopper word. Die ANC en sy bondgenote in die RNE sal direkte verantwoordelikheid moet aanvaar vir enige uittog van boere na die VSA en die gevolglike verlies aan voedselsekerheid.”
Kriel verseker egter AfriForum sal steeds probeer om plaasmoorde as prioriteitsmisdaad verklaar te kry en sal voortveg teen oproepe van geweld teen boere en Afrikaners. Netwerke sal uitgebrei word om plaasgemeenskappe in staat te stel om hul eie veiligheid te handhaaf. Die organisasie sê egter elke boer se toekomsbesluite vir hulleself sal geresprekteer word.
“Ons sal voortgaan om te veg teen oproepe tot geweld teen boere en Afrikaners en om ons landswye netwerk van buurt- en plaaswagte uit te brei sodat plaasgemeenskappe hulleself beter kan beskerm. AfriForum respekteer elke boer se reg om self oor hul toekoms te besluit, maar as organisasie veg ons onbeskaamd om ’n toekoms aan die suidpunt van Afrika vir ons gemeenskappe en nageslag te help bou.”
