KWAZULU-NATAL. – Malusi Mlondo (34), ‘n voormalige beampte vir die departement van binnelandse sake, het glo besonderhede van SA-burgers saam met buitelandse burgers se foto’s gebruik om vervalste paspoorte uit te reik.
Mlondo is Dinsdag vir beweerde bedrog en korrupsie in hegtenis geneem.
Lt. kol. Simphiwe Mhlongo sê Mlondo het na bewering die vervalste paspoorte teen R3 000 elk vir buitelandse burgers gedurende Februarie 2023 by die Durban-kantoor geprosesseer.
Nadat ‘n saak van bedrog en korrupsie by Durban-Sentraal-polisiestasie aangemeld is, is die dossiere na die Valke vir ondersoek oorgeplaas.
Mlondo het na sy inhegtenisneming vlugtig in die Durban- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof verskyn. Die saak is tot 6 Mei uitgestel en hy bly in aanhouding.




