Dr. Kgosientsho Ramokgopa, die minister van elektrisiteit en energie, het onlangs tydens sy departement se begrotingstem in die parlement ‘n omvattende geïntegreerde hulpbronplan (IRP) van R2,2 triljoen voorgelê. Dit stippel Suid-Afrika se energietoekoms vir die komende dekades uit. Alhoewel die IRP 2025-dokument reeds in Oktober verlede jaar deur die kabinet goedgekeur is, is dit tans weer met rede op die voorgrond.
Suid-Afrika was reeds 365 dae sonder beurtkrag, nuwe beleidshervormings ontvou tans en die debat rondom kernenergie laai opnuut op. Ramokgopa het egter gewaarsku dat die beurtkragmylpaal nie as die einde van die krisis beskou moet word nie. Eskom se bedryfsprestasie het verbeter, onderhoudsdissipline het versterk en stelselkoördinasie is skerper, maar volgens hom is daar nog werk om te doen.
Die plan, wat ‘n belegging van R2,2 triljoen behels, word deur die minister beskryf as ‘n manier om die Suid-Afrikaanse ekonomie te versterk en energiesekerheid vir alle burgers te verseker. Kernenergie staan sentraal hierin, met Koeberg en Thyspunt wat as strategiese terreine vir verdere ontwikkeling aangewys is. Die minister het beklemtoon dat die grootste risiko nie befondsing is nie – aangesien beleggers reeds gretig is – maar eerder die agteruitgang van Suid-Afrika se kernenergie-vaardigheidsbasis oor die jare.
Verdere hervormings wat tans ontvou, sluit in ‘n hersiene elektrisiteitsprysbeleid vir openbare kommentaar, ‘n onafhanklike transmissiestelseloperateur en die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse groothandelselektrisiteitsmark wat vir die derde kwartaal van 2026 verwag word. ‘n Departementsbegroting van R6,1 miljard is vir 2026/27 toegeken, waarvan R4 miljard na energieprogramme en elektrifisering gaan.
Lees die amptelike IRP 2025-dokument hier en Eskom se verklaring hier.




