GAUTENG. – Die saak teen Vusimuzi “Cat” Matlala, Musa Kekana, Tiego Floyd Mabusela, Tsakane Matlala en Zandile Nthabiseng Nzama is deur die Johannesburg-landdroshof tot 12 Februarie uitgestel. Die uitstel gee die staat tyd om die verdediging toegang tot bekendgemaakte inligting te gee en ’n nuwe voorverhoordatum vas te stel.
Kekana, Mabusela en Matlala bly in aanhouding, terwyl die verdediging beplan om borgtog vir Matlala op nuwe feite aan te vra. Die vierde en vyfde beskuldigdes is reeds op borgtog vrygelaat. Buiten aanklagte wat moord insluit, is die omstrede sakeman se naam is ook deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi voor die Madlanga-kommissie van ondersoek genoem tydens ontbloting van ‘n beweerde nasionale sindikaat wat volgens hom politici, regslui, wetstoepassers en sakemanne insluit.
Luidens ‘n verklaring van Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, staan die vyf beskuldigdes tereg op 25 aanklagte, insluitend 11 klagtes van poging tot moord, wat verband hou met drie afsonderlike skietvoorvalle tussen Augustus 2022 en Januarie 2024. Die staat beweer verder dat die beskuldigdes betrokke was by skietvoorvalle, geldwassery, asook ’n vals faktuur wat gebruik was om die oorsprong van die geld te verberg en die hof te mislei.





