GAUTENG. – Vusimuzi “Cat” Matlala se aansoek om borgtog is in die Alexandra-landdroshof geweier. Die hof hou voor Matlala is ‘n vlugrisiko en kan moontlik met staatsgetuienis inmeng. Matlala se naam is deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi genoem in die ontbloting van ‘n beweerde nasionale sindikaat wat volgens hom politici, regslui, wetstoepassers en sakemanne insluit, met ‘n beweerde verbintenis met Senzo Mchunu, die geskorste polisieminister.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die hof het voorts gesê Malala kon nie buitengewone omstandighede bewys om sy vrylating te regverdig nie. Die ondersoekbeampte kon aan die hof bewys Matlala het ‘n Eswatini -identiteitsdokument onwettig bekom.
Matlala het aan die hof gesê die polisie het bewyse teen hom gefrabiseer. Hy staan op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en geldwassery tereg.
Die aanklagte kom van gebeurtenisse wat tussen 12 en 17 Oktober 2023 in Johannesburg plaasgevind het. Matlala het glo saamgesweer om Tebogo Thobejane, sy gewese meisie, te laat vermoor. Hy het ook volgens aanklagte R120 000 wat aan die moordkomplot gekoppel kon word, gewas. Om die bewering te staaf, het die staat kwitansies van ‘n lykshuis voorsien wat na bewering gebruik is om geld tussen Matlala, Musa Kekana en Tiego Floyd Mabusela te laat vloei.
Die staat het uitstel van die saak tot 7 Oktober gevra, om die twee addisionele saakdossiere wat van Pretoria ontvang is, wat Matlala, Tsakani Matlala, Nthabiseng Nzama, Kekana en Mabusela impliseer, te sentraliseer en na die hooggeregshof oor te plaas.




