GAUTENG. – Vusimuzi “Cat” Matlala se borgtogaansoek-appèl is deur die Johannesburg-hooggeregshof van die hand gewys, nadat sy aanvanklike aansoek reeds deur die Alexandra-landdroshof geweier is. Matlala staan op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en poging tot regsverydeling tereg. Die omstrede sakeman se naam is ook deur lt.kol. Nhlanhla Mkhwanazi genoem, tydens ontbloting van ‘n beweerde nasionale sindikaat wat volgens hom politici, regslui, wetstoepassers en sakemanne insluit.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê die uitspraak is verwelkom en is van mening dat die hof die regte besluit geneem het deur borgtog te weier, gegewe die erns van die aanklagte en die risiko vir openbare veiligheid en wetstoepassingsbeamptes, insluitend die ondersoekbeampte en aanklaers betrokke by die saak. Die aanklagte teen Matlala spruit uit beweerde voorvalle wat tussen 12 en 17 Oktober 2023 in Johannesburg plaasgevind het, waartydens Matlala glo saamgesweer het om Tebogo Thobejane te vermoor. Die staat beweer verder dat op Thobejane en twee ander klaers geskiet is. Daar word ook beweer dat Matlala meer as R120 000 gewas het wat aan die moordplan gekoppel word en ’n vervalste faktuur ingedien het om die oorsprong van die geld te verbloem en die hof te mislei.
Die hof het die borg-appèl van die hand gewys nadat bevind is dat Matlala ’n vlugrisiko inhou, ’n gevaar vir getuies en die gemeenskap is, en dat die staat ’n sterk saak teen hom het. Sy vrylating sou dus teen die belange van geregtigheid wees.





