Saak van 95 Libiese burgers uitgestel, visums gekanselleer

Lees ook :

Foto: SAPD

MPUMALANGA. – 95 Libiese burgers, wat Vrydag op Witrivier in hegtenis geneem en gister in die hof verskyn het, bly in aanhouding terwyl die saak tot 5 Augustus uitgestel is.

Kol. Donald Mdhluli sê die saak is uitgestel om ‘n tolk en regsverteenwoordiging te bekom. Die ondersoek duur voort.

Dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, sê die visums in besit van die Libiese is deur wanvoorstelling in Tunisië verkry. Die visums is gekanselleer, dus is die Libiese burgers nou onwettig in die land.

Deportasie is tans ‘n opsie vir die 95 boorlinge van Libië wat op ‘n militêre opleidingsperseel gearresteer is.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

Verskeie hooggeplaastes het gedurende die naweek die militêre basis wat op Witrivier ontdek is, besoek. Die 95 verdagtes verskyn vandag in die Witrivier-landdroshof.

Kol. Donald Mdhluli sê die Libiese verdagtes verskyn op aanklag van oortreding van die immigrasiewet. Finale reëlings word saam met die departement van binnelandse sake getref. Kommunikasie vind met die hof oor die groot aantal verdagtes plaas, maar tot dusver blyk dit asof almal in dieselfde hof sal verskyn.

Die 95 verdagtes is in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is en daar op ‘n militêre opleidingsfasiliteit afgekom is.

Senzo Mchuna, polisieminister, en genl. Fannie Masemola is van die hooggeplaastes wat die perseel besoek het.

Genl. Fannie Masemola verseker Suid-Afrikaners daar sal behoorlik ondersoek ingestel word nadat 95 Libiese burgers wat glo militêre opleiding op ‘n plaas op Witrivier gekry het, gearresteer is.

Brig. Athlenda Mathe sê Masemola het die intelligensiegedrewe operasie verwelkom.

“’n Span speurders ondersoek beweerde verdagte aktiwiteite wat op die plaas plaasvind.”

Polisielede het die Libiërs gevind waar hulle in militêre tente tuisgaan. Militêre opleidingstoerusting, wat gelisensieerde vuurwapens insluit, is ook gekry.

“SAPD-speurders kan nie die moontlikheid uitsluit dat die plaas, wat as ‘n veiligheidsopleidingsterrein geakkrediteer is, na bewering as ‘n onwettige militêre opleidingskamp gebruik word nie.”

Mathe sê die polisie werk nou met die departement van binnelandse sake saam om vas te stel hoe die Libiese burgers hulle visums bekom het.

“Genl. Masemola het vir kalmte gevra en sê hy het volle vertroue in die span wat aan hierdie sake werk. Hy het bygevoeg die polisie sal geen steen onaangeroer laat om na die kern deur te dring van watter soort aktiwiteite op die plaas plaasvind nie.”

“Tydens die operasie het die polisie ook op dagga en kokaïen beslag gelê. Van die ander dwelms word na die SAPD se forensiese wetenskaplaboratorium in Pretoria gestuur om dit as onwettige middels te identifiseer. Die veiligheid van ons burgers is van kardinale belang en die SAPD bly daartoe verbind om transnasionaal georganiseerde misdaad beslissend te hanteer,” sluit Masemola af.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App