GAUTENG. – ‘n Gesamentlike operasie in Booysens, Johannesburg, het Woensdag gesorg dat beweerde sakerowers hulle rieme styfloop. Een is gewond en altesaam sewe is in hegtenis geneem.
Kol. Noxola Kweza sê aan Nuusflits die operasie is geloods nadat inligting ontvang is van ‘n groep rowers wat glo sakepersele met wapens in die Johannesburg-area teister. Inligting het aangedui dat die groep rowers, met twee voertuie met vals registrasieplate, ‘n sakeperseel in Booysens sou beroof.
Verskeie polisie-eenhede en veiligheidsmaatskappye was deel van die operasie. ‘n Hoëspoedjaagtog het gevolg toe die verdagtes se voertuig opgemerk is, maar die verdagte voertuie met verdagtes binne-in kon suksesvol gestop word.
“Een verdagte is geskiet en gewond, terwyl ses ander in hegtenis geneem is.”
Kweza sê twee vuurwapens, ammunisie, twee motorvoertuie, handskoene, vals registrasieplate en selfone is gekonfiskeer.
“Die verdagtes sal na verwagting deur verskeie aanklagte in die gesig gestaar word. Namate die ondersoek voortduur, is dit moontlik dat die verdagtes met ander sake in die Johannesburg- en Pretoria-areas verbind kan word.”
Die verdagtes sal na verwagting binnekort op aanklagte in die hof verskyn.





