Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, skerp gekritiseer ná sy uitlatings dat joernaliste wat fouteer “in Pollsmoor moet sit.”
Sanef sê in ‘n verklaring sy opmerkings is ’n ernstige bedreiging vir mediavryheid en vergelyk dit met apartheidsera-taktieke om die pers te onderdruk. Mkhwanazi het tydens ‘n sitting van die parlementêre ad hoc-komitee van sy getuienis afgewyk en voorgestel dat die staat se veiligheidsagentskappe ’n teeninligting-ondersoek teen die media loods. Hy het selfs streng strawwe voorgestel.
Sanef het Firoz Cachalia, polisieminister, en genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, versoek om die uitlatings te veroordeel, en beklemtoon dat die media grondwetlik beskerm word om korrupsie en magsmisbruik aan die kaak te stel. Sanef het benadruk dat die media se reg om hul bronne te beskerm reeds deur hofuitsprake bevestig is en dat geen staatsinstansie bo die wet staan nie.
“Om die media te teiken, is om die publiek van die waarheid te ontneem,” het Sanef gewaarsku, en bygevoeg dat sulke optrede die land gevaarlik naby aan ’n stelsel van ongekontroleerde mag bring.
Bron: www.sanef.org.za
Druk hier om SANEF se verklaring te lees.