KNYSNA, WES-KAAP. – Die teenwoordigheid van ’n enkele olifantkoei wat in die Knysnabos opgemerk is, het SANParke genoop om sosiologiese en ekologiese assesserings rakende olifantteenwoordigheid in die area te doen.
Volgens JP Louw, hoof van SANParke se kommunikasie-afdeling, ondersteun die ondersoek die hervestiging van olifante in die Tuinroete. Heelparty kenners lig egter die kompleksiteit van die proses uit. Diegene wat ten gunste van die hervestiging is, lê klem op ekologiese, kulturele en geskiedkundige waardes.
Talle kenners wat geraadpleeg is, meen olifantkenners, grondeienaars en bewaringsowerhede se insae moet in ag geneem word.
Die ekologiese studies het die olifant se fisiologiese toestande en gedrag in reaksie tot menslike aktiwiteite uitgelig. Moontlike konflikareas van mense en olifante sowel as die rede waarom die olifantbevolking in daardie area verminder het, is in ag geneem.
Daar is bevestig net een olifantkoei is in die bos teenwoordig. Haar stresvlakke het gestyg sodra mense haar agtervolg het, terwyl sy weer kalmer in rustiger areas was.
“Beide sosiale en ekologiese studies ondersteun bestuursopsies wat lae risiko is,” het Louw gesê.
Bronne: SANParke, Facebook





