Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) gaan vanaf 1 September verpligte biometriese registrasie vir alle begunstigdes landwyd in sy kantore implementeer.
Volgens ‘n Sassa-verklaring word hierdie stap as ’n belangrike deel in die verbetering van die administrasie van maatskaplike toelaes en die bekamping van bedrog beskou. Die biometriese registrasie sal onder meer vingerafdruk- en gesigsherkenning insluit as deel van die elektroniese Know Your Client-stelsel. Themba Matlou, Sassa se uitvoerende hoof, sê die plan was om die biometriese registrasie aan die begin van die 2025/2026 finansiële jaar te begin, maar daar was struikelblokke. Die kwessies is intussen opgelos en alle stelsels is reg vir implementering.
Die agentskap sê die nuwe proses sal help om bedrieglike aansoeke en dubbele betalings te verminder, die egtheid van begunstigdes betroubaar te bevestig, insluitingsfoute te verminder en die dokumentasieprosesse te stroomlyn. Dit sal volgens Sassa ook bydra tot groter openbare vertroue in die maatskaplike bystandstelsel. Sassa het bevestig dat alle nuwe aansoeke vanaf 1 September biometriese data moet insluit. Aansoeke sonder hierdie data sal in ’n hersieningsproses geplaas word totdat die biometriese inligting vasgelê is.
“Hierdie proses kom op ’n tyd wat die agentskap sy pogings verskerp om sy stelsels te verbeter, bedrog uit te roei en te verseker dat die regte mense die regte toelaes ontvang,” het Matlou gesê.
Lees die volledige verklaring hier onder:


