LIMPOPO. – Lt.genl. Thebi Hadebe waarsku ouers ernstig om veral gedurende die reënseisoen na hulle kinders te kyk, nadat verdrinkings in water waarin krokodille en seekoeie is, voorgekom het.
Kol. Malesela Ledwaba sê die waarskuwing volg nadat insidente van verdrinking en aanvalle van wilde diere in riviere regdeur die provinsie aangemeld is. Saterdag is twee swemmende tienerseuns (16) in die Luvuvhurivier in Xikundu meegesleur. Duikers kon daarin slaag om hulle lewelose liggame uit die water te haal.
Op Nuwejaar het twee jong seuns en ‘n volwassene in die Phalalarivier, by Witpoort, verdrink. Die polisie en ander nooddienste kon net twee liggame uit die water haal. Hulle het sewe seekoeie teëgekom, waarna twee op hulle afgestorm en die soektog gestaak moes word.
Ledwaba herinner aan ‘n insident op 7 Februarie 2024 toe ‘n 10-jarige in die Phalalarivier deur ‘n krokodil aangeval en onder die water verdwyn het. ‘n 18-jarige is ook aangeval en kon self aan wal kom, waarna hy vir mediese behandeling in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem is. Die jonger seun se liggaam kon egter nooit gevind word nie. Tydens ‘n behoorlike soektog is die reddingspan se kano’s deur 12 groot krokodille genader en moes hulle met gewere verwilder word. Die soektog is 16 km verder in die rivier hervat, waar die span deur seekoeie gehinder is.