LIMPOPO. – Die polisiekommisaris het die beweerde verkragting van twee meisies, onderskeidelik 5 en 6 jaar oud, deur minderjarige seuns, in twee afsonderlike voorvalle in die Mopanidistrik veroordeel.
Kol. Malesela Ledwaba sê ‘n 5-jarige meisie is Vrydag deur ‘n groep van vyf seuns tussen 10 en 11 jaar oud, waarvan een haar eie biologiese broer (11) is, in die Namakgale-polisiëringsarea verkrag. Die meisie het ‘n familielid vertel wat dadelik haar ma laat weet het. Die ma het haar van die werk huis toe gehaas en die voorval by die polisie aangemeld.
Donderdag is ‘n 6-jarige meisie na bewering in Maake-polisiëringsarea seksueel aangerand deur tweelingseuns (9) wat langs haar bly. Die meisie het haar ma vertel sy is seksueel aangerand terwyl sy met die seuns gespeel het. ‘n Saak is by die polisie geregistreer.
Die sake word deur die polisie se GKS-eenheid, waarby ‘n proefbeampte en maatskaplike werker betrokke sal wees, ondersoek.
Lt.genl. Thembi Hadebe het die voorvalle waar slagoffers sowel as oortreders van verkragtings minderjariges is, ten sterkste veroordeel.
Hadebe het die kritieke rol van ouers en voogde beklemtoon in die opvoeding van kinders oor onderwerpe soos respek, toestemming en die belangrikheid om mekaar te beskerm. Sy het ook benadruk ouers en voogde moet meer oplettend en pro-aktief in hul verantwoordelikheid teenoor kinders optree.





