LIMPOPO. – ‘n Luitenant-kolonel verbonde aan die ondersoekeenheid vir voertuigmisdade het Woensdag omstreeks 02:00 ‘n vermeende motordief (31) op heter daad in Flora Park in Polokwane (Pietersburg) betrap.
Volgens kol. Malesela Ledwaba het die offissier op ‘n klagte van ‘n voertuigdiefstal gereageer.
Met aankoms op die toneel het hy die verdagte binne-in ‘n voertuig aangetref wat hy glo probeer aanskakel het. Die voertuig was ook glo geskuif van waar dit geparkeer was. Sonder om vir rugsteun te wag, het die offisier opgetree en die verdagte in hegtenis geneem.
Tydens ondersoek is gevind sommige onderdele van die voertuig was beskadig en sommige verwyder.
Die verdagte het gister in die Polokwane-landdroshof verskyn.