LIMPOPO. – ‘n Sersant het glo Sondagmiddag eers ‘n voormalige polisie-offisier in Westenburg-polisiëringsarea gewond en daarna ‘n vroulike brigadier doodgeskiet, voordat hy sy eie lewe geneem het.
Brig. Hlulani Mashaba sê die brigadier en die sersant het tydens die insident gesterf. Die voorvalige polisie-offisier, wat in dieselfde area woon, is gewond en vir behandeling na ‘n hospitaal gehaas.
Die polisie is omstreeks 13:30 na ‘n skietinsident by Southern Gateway waar ‘n sersant met ‘n skietwond aan sy kop en die brigadier met verskeie skietwonde aangetref is. Beide is dood verklaar.
Volgens wat rapporteer is, is die sersant na die voormalige polisie-offisier se huis, waar ‘n argument ontstaan het. Die sersant het glo op die voormalige polisie-offisier geskiet, waarna hy hom na die brigadier gewend het wat met ‘n voertuig probeer wegkom het. Verskeie skote is na haar geskiet en sy het gesterf. Die sersant het toe glo in die brigadier se voertuig geklim en homself met sy dienspistool om die lewe gebring.
Mashaba sê die sersant was aan die provinsiale misdaadintelligensie-eenheid verbonde. Die brigadier was die hoof van ‘n provinsiale komponent.
Die motief vir die insident is onbekend, maar sake van moord, poging tot moord en ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Lt.genl. Thembi Hadebe en ander rolspelers het die toneel besoek en die gebeure ten sterkste veroordeel.
“Ons veroordeel hierdie gruwelike daad van geweld in die sterkste moontlike terme. Sulke optrede is betreurenswaardig en in direkte stryd met die waardes en beginsels van die SAPD. Die verlies aan lede binne die diens is ‘n ernstige slag vir ons gemeenskappe en die SAPD-familie in die algemeen. Ons bied al die nodige ondersteuning aan die geaffekteerde families van die slagoffers gedurende hierdie uitdagende tye. Laastens doen ons ‘n beroep op die publiek om die privaatheid van die betrokke families te respekteer en om hulle te weerhou daarvan om oor die besonderhede van die saak te spekuleer totdat alle feite vasgestel is,” sê Hadebe.





