LIMPOPO. – ‘n Sersant (37) van die polisie is Vrydagoggend vir die beweerde moord van ‘n weermaglid (33) deur Opod (onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat) in hegtenis geneem.
Phaladi Shuping van Opod sê na bewering het die polisielid en die oorledene ‘n onderonsie in die Kinimambo-taverne gehad.
Die weermaglid is glo na Hoedspruit-polisiestasie toe waar hy ‘n saak wou oopmaak, maar is na bewering weggewys, aangesien hy glo onder die invloed van drank was. Omstreeks 02:30 het die polisiesersant glo die weermaglid by die polisiestasie teëgekom en skote afgevuur. Die weermaglid is noodlottig gewond. Nooddienste het hom op die toneel dood verklaar.
Shuping sê die voorval is aan Opod gerapporteer waarna die inhegtenisneming uitgevoer is.
Die polisiesersant sal vandag op ‘n aanklag van moord in die Hoedspruit-landdroshof verskyn.
Volgens die SANW ondersoek die militêre polisie ook die voorval.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

