OOS-KAAP. – Ses vermeende gewapende verdagtes is Donderdagmiddag omstreeks 14:30 deur die polisie op die N2 tussen Ndabakazi en Butterworth doodgeskiet.
Lt. kol. Siphokazi Mawisa sê lede verbonde aan die nasionale intervensie-eenheid het inligting van twee voertuie met vuurwapens wat van Cofimvava onderweg was, ontvang, waarna ‘n operasie geloods is. Nadat die voertuie opgemerk is, het polisielede dit probeer stop, maar die verdagtes het weggejaag en ‘n hoëspoedjaagtog het gevolg. Rugsteun is aangevra. Die verdagtes het tussen Ndabakazi en Butterworth op die polisie begin skiet en die polisie het teruggeskiet.
Met ondersoek is bevind ses persone is noodlottig gewond. Vuurwapens is in die voertuie gevind.
Mawisa bevestig die onafhanklike polisie ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die insident.





