Ses leerders sterf toe skoolbus en trein bots

Lees ook :

Foto: Foto: Mpumalanga departement vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling,

Foto: Departement van Vervoer

MPUMALANGA. – Ses leerders het gesterf toe hulle skoolbus Woensdagmiddag met ‘n trein op die R104 tussen Wonderfontein en Arnot gebots het. Tien leerders is ernstig beseer.

Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die bus, wat 30 leerders van Morelig School vervoer het, het naby die Mafube-woonbuurt met die trein gebots.

Na bewering het die skoolbus die treinspoor oorgesteek, terwyl die trein reeds te naby in aantog was. Nog tien leerders en die busbestuurder het ligte beserings opgedoen. Alle nooddienspersoneel was op die toneel. Een van die ses leerders het in die hospitaal gesterf.

Jackie Macie, LUR vir die departement, het sy skok oor die afsterwe van die leerders uitgespreek en medelye aan die geaffekteerde families oorgedra. Spoedige beterskap is die beseerdes toegewens.

Macie het ‘n behoorlike ondersoek aangevra en gesê die wet moet sy gang gaan en diegene wat verkeerd bevind word, straf.

“Ons kan nie sulke jong en onskuldige lewens verloor weens roekeloosheid nie. Mense moet verantwoordelikheid neem vir hul nalatigheid. Skoliervervoer- en openbarevervoereienaars moet bestuurders ondersoek voordat hulle in diens geneem word om vas te stel of hulle werklik geskik is om met die vervoer van mense vertrou te word. Hulle moet hulle ook gereeld opvoed, toets en oplei om hierdie soort voorvalle te vermy,” sê Macie.

“Neem asseblief kennis dat die bestuurder van die bus wat Woensdagmiddag in ‘n dodelike ongeluk in Wonderfonrein betrokke was, nog nie in hegtenis geneem is nie. Die ondersoek na die ongeluk is egter aan die gang,” sê Mmusi.

Foto: Mpumalanga departement vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App