ZAMDELA, VRYSTAAT. – Ses tienerseuns, tussen die ouderdom van 16 en 19 jaar, is deur die polisie in hegtenis geneem nadat ‘n man (25) Sondag met kopbeserings dood aangetref is.
Sers. Josephine Rani sê die polisie het omstreeks 00:30 ‘n klagte van ‘n man wat glo aangerand en op die grond by ‘n huis in Somerspost lê, ontvang. Die polisie is na die adres waar die man aangetref is. Hy het kopbeserings gehad en is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het inligting oor die verdagtes gekry en dit opgevolg, waarna die ses tienerseuns in ‘n sinkhuis in Somerpost in hegtenis geneem is.
Die verdagtes verskyn vandag op ‘n aanklag van moord in die Sasolburg-landdroshof.





