GAUTENG. – Ses vermeende transitorowers is Maandagmiddag net na 17:00 in Laudium, Pretoria, in ‘n skietery met die polisie dood.
Kol. Mavelo Masondo sê aan Nuusflits die skietery was tussen die verdagtes, die polisie en ander wetstoepassingsowerhede. ‘n Sewende verdagte (22) is in hegtenis geneem. Die polisie het op vyf ongelisensieerde vuurwapens, asook ammunisie, beslag gelê.
Nadat inligting van verdagtes wat na bewering onderweg was om ‘n transitoroof in Atteridgeville, Pretoria, uit te voer, ontvang is, het die span dadelik gemobiliseer. Kort voor lank is ‘n BMW en ‘n Audi wat ‘n kontantwa agtervolg, opgemerk. ‘n Hoëspoedjaagtog het ontstaan nadat die polisie deur die verdagtes gewaar is. Die verdagtes is in Laudium voorgekeer, waar skote na die polisie geskiet is en ‘n oor-en-weer-skietery ontstaan het. Buiten ses verdagtes wat noodlottig gewond is en een wat sonder beserings in hegtenis geneem is, word daar na nog verdagtes wat ontsnap het, gesoek.
Tydens die voorlopige ondersoek is bevind die Audi A4 is in Desember 2024 in Cleveland, Johannesburg, as gekaap aangemeld. Dit blyk asof die vedagtes deel van ‘n bende is wat voorheen ‘n transitoroof in Atteridgeville gepleeg en by ander transitorooftogte in Gauteng sowel as ander provinsies betrokke was.
Die verdagte staan op aanklagte van sameswering om roof te pleeg, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en poging tot moord, tereg.







