NOORDWES. – Johandré Blom (7) se arm is Vrydag by Roodekoppiesdam by Emanzini naby Brits deur ‘n krokodil in vlak water afgeruk.
H.E.M.S (Hartbeespoort Emergence Medical Services) sê dié diens het ‘n noodoproep gekry van ‘n jong seun wat in vlak water gespeel en deur ‘n krokodil aangeval is. Die gesin is onderweg met die beseerde seun na die hospitaal langs die pad ontmoet, waarna H.E.M.S hom begin behandel het om hom te stabiliseer. Johandré is na ‘n plaaslike hospitaal in Brits vervoer, maar die ernstige situasie het gespesialiseerde mediese behandeling geverg. H.E.M.S het ‘n lugambulans ontbied en die seun is na ‘n hospitaal in Alberton, Gauteng, gevlieg.
“Die span by HEMS hou die seun in hul gedagtes en bid vir hom en sy gesin, met die hoop op ‘n volle en spoedige herstel. Die vinnige en gekoördineerde pogings van alle betrokkenes beklemtoon die belangrikheid van effektiewe noodreaksie en gemeenskapsamewerking in kritieke situasies.”
Juan van der Merwe sê op die Hengelreise Facebook-blad Johandré is stabiel, maar die mediese kostes is astronomies, waarvoor hulp gevra word. Corné Blom, Johandré se pa, is ‘n lid van die blad. Van der Merwe sê voorts vrae sal nie beantwoord nie, daar sal slegs op Juandré se gesondheid gefokus word. Vir enige ondersteuning kan Van der Merwe by 083 538 2311 gebel word. Lootjiekaartjies ter ondersteuning van Juandré sal volgens Van der Merwe binnekort op die Raffle Heads Papgooi skakel bekom kan word.
Volgens die Kormorant is Johandré tans, tot Maandag, in ‘n geïnduseerde koma. Johandré was saam met sy ouers Corné en Amanda by die visvangplek en het saam met ‘n maat gespeel toe die krokodil in vlak water toeslaan. Johandré se maat het hom van die krokodil probeer wegtrek, waarna Corné ingespring het om te help. Die krokodil het met Johandré en Corné in die rondte gedraai en toe hulle kon loskom, was Johandré se arm weg. Daar is dadelik met die seun vir mediese hulp gery. HEMS is op pad ontmoet en die beseerde seun is na die Mediclinic in Brits gery.





