Brekende Nuus
Nuus

Seun sterf ná val in mynskag

Foto: NuusBron

NOORD-KAAP. – Theodore “Theo” Bahlekazi (12) van Carolusberg is Maandag dood nadat hy in ’n diep gat geval het terwyl hy saam met maats gespeel het. Die polisie vermoed die gat is ’n ongebruikte mynskag. Sy ouma het omstreeks 17:30 die nooddienste ontbied.

Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die distrikstaakspan, die Springbok-honde-eenheid en Nama Khoi-reddingsdienste is na die toneel ontbied. Noodpersoneel wat in die gat afgesak het, het vasgestel dat die seun noodlottige beserings opgedoen het. Die Black Mountain-reddingspan het later aangesluit en sy liggaam is omstreeks 23:00 na die oppervlak gebring. Die Springbok-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Brig. Schalk Andrews, Namakwa-distrikskommissaris, het sy medelye met die familie betuig en ouers en voogde gevra om kinders weg te hou van verlate mynskagte en ander onbeveiligde uitgrawings.

Bronne: SAPD, Cape Coast News, Die NuusBron